In The Press

 

Pak gerus af by Buffelsbaai

Jou rugsak en branderplank is al wat nodig is by die informele kuierplek

ISABEL SWART, verykutjoernalis en ma van twee seuns, verken die volgende paar weke die wereld van rugsakreis in ons eie land. Verlede week het sy met die wyn- kultuur van rugsakreisigers kennis gemaak. Buffelsbaai se herberg vir rugsakreisgers is vandeesweek aan die beurt.

HOU, boude, hou! 'n Lang dag op die pad en my eerste kennismaking met die "BazBus": die rugsakreisiger se troue pakesel wat hom - bergfiets, branderplank en kitaar - veilig by sy oornagplek besorg. En 'n gawe kans bied vir kuierkouse om hul roes af te slaap!

Ek leer my medereisigers ken: Daar's die 11-jarige Christopher, 6de van 10 kinders, op pad na 'n sendingkonferensie in Durban. En twee ooms van by die 70: Duitsers, met die soort ongesonde gelaatskleur wat 'n mens kry van óf te veel son óf te veel skink. Waarskynlik albei in dié geval.

Ek dink onwillekeurig aan die ou?tjie wat my vanoggend op Somerset-Wes by die bushalte moes aflaai. "Het jy al rugsaktoere oorsee gedoen?" wou ek weet. Hy knik. "En hoe vergelyk dit met Suid-Afrika?" Hy dink 'n oomblik: "Ek kan nie onthou nie - ek was dronk!"

So teen halfvyf sien ons die blou dakkies tussen die Buffelsbaaise duine: "Wild Side Backpackers" lees ek op 'n gehawende branderplank.

Ek's kisboude. Koers sommer dadelik strandlangs om weer my sirkulasie aan die gang te kry. Heimlik ook om te ontsnap van die gedoef-doef van die tromme wat genadig deur die branders uitgedoof word.

Ek adem die vars seelug in. 'n Oomblik lank breek die son deur die wolke - 'n blinkpienk baan oor die sand. Tussen die duine wink die kampvuur. Ek sluit my aan by die geselskap wat in die intieme vuurlig skielik ou bekendes word.

Vir aandete is daar roosterkoek, soetpatat, slaai en snoek; teen R40 kan die Cup-a-Soup maar wag. Ek vind gou uit 'n stewige bord kos is 'n belangrike aanbeveling vir 'n rugsakherberg - veral op 'n plekkie soos Buffelsbaai waar die enigste pizzaplek al vyfuur toemaak.

Rondom my is almal besig om te chill - tot selfs die hond wat hom lank op die bank uitgestrek het. (Ek sou mettertyd leer dat rugsakherberge se honde van die gemoedelikste spesies op aarde is.)

Visnette en vlae versier die sitkamer. Ek verkyk my aan die muurskilderye: stuitige seevoëls met bikini-bostukkies in die bek, koddige visse wat om 'n pilaar swem, en les bes, 'n middeldeur gebyte branderplank met die bloed en haaitande nog daarin verstrengel.

Ek sien die klomp name bokant die kroeg uitgekrap: "Klub 100". Dis nou Wild Side se uitdaging vir die manne (en vroue) met die blikblase.

Honderd shooter-glasies bier teen 'n tempo van een per minuut - sónder om toilet toe te gaan! Ek steier by die gedagte.

"En wat's daai?" vra ek in my onskuld. Woordeloos knak die kroegman 'n bier, druk die tuinslang se bek toe en gooi die inhoud deur die tregter. Hy gooi sy kop agteroor: Soos blits verdwyn die vloeistof in sy keelgat af. Ek staan verbyster. (Nota: Wag liefs tot boetman weerbaarder is voordat jy sy rugsakkie pak . . . )

Die "watergat" is die spil waarom alles draai - dié sou ek weldra uitvind. Dis hier waar swerwelinge tot laatnag kuier, ervarings uitruil en vriendskappe smee: Elly, ons raakvatter-gasvrou; Garth wat onder sy mussie agter die kroegtoonbank wegkruip; Lorenzo die vurige Italiano; Buzz, die swerwende kunstenaar wat tot vroegoggend stilswyend voor sy bier sit en die volgende dag met bloedbelope oë sy koffie drink.

My kamer is nr. 7: So 'n tipe ontwerpers- verwaarloosde b each house-effek met verslete plankmure, 'n plankdeur (wat 'n reuse-loerspleet in het en nie van binne kan sluit nie!) en 'n venster groot genoeg vir iemand om met gemak van buite af te kan inklim - dis nou as hy nie sommer by die deur instap nie. Binne is die kamer versier met skulpbehangsels, 'n spieël met 'n skulpiesrand en stukkies dryfhout. Buite ruis die branders.

Vroegoggend stap ek vir oulaas op die strand. Van 'n ongebreidelde rit deur die branders sal daar ongelukkig niks kom nie - die perde "werk" nie op Sondae nie. En dat ek die branderrylesse misloop, wel, daarmee kan ek saamleef.

Met die terugkom merk ek die yslike motorfiets voor die deur: "Out in Africa," lees ek. So ontmoet ek Mark Crooks, alleenreisiger deur Afrika, op sy voorlaaste skof van 'n 11 weke lange rit vanaf Gibraltar tot by die suidelikste punt van Afrika. Hy's 'n man van min woorde. Sy foto's vertel die storie van bar kliplandskappe, verswelgende woestynsand en verstrengelende oerwoude.

So sou ek nog vele van hulle ontmoet, die ewige reisigers. Swerwelinge op pad om nuwe wêrelde te verower. Rolling stones that gather no moss.

Meer inligting oor rugsakreis is by www.backpackingsouthafrica.co.za beskikbaar.

Volgende week word hoog in die takke by Stormsrivier gekuier

 
 
 
HOME ABOUT US TICKET OPTIONS TIMETABLE ACCOMMODATION SA SIGHTS DISCOUNTS FAQ BUY TICKET ENQUIRIES

Visa - MastercardVCS Secured Payments