In The Press

 

Langpad, teerpad, geniet die ruis

Altesame 13 ooorslaapplekke in 18 dae? Mallig- heid! ‘n Rugsakreisiger laat home nie aanjaag nie – tensy hy van ry hou, skryf ISABEL SWART, wat die afgelope paar weke die wereld van rugsakreis in ons eie land verken.

DEUR my vriend die BazBus se ruite sien ek die landskap soos 'n fliek by my verbyflits. Duskant Hogsback ry ons verby vuilbruin modderhuisies - sinkdakke en Dulux die enigste toegewing aan die 21ste eeu. Pampoene op die dak: diepgeel, oranje, groen; boepens, kalbassies en plattes. Ons ry oor die Keirivier. Die bossies koes-koes teen die steiltes: genoeg skuilplek vir Xhosas wat jou met 'n trillende spies kom verras. Hoe op aarde is die ossewaens hier oor? Butterworth: In dié wêreld is selfs meer rondawels as op Goudini. Elke lappie grond het 'n paar spitsdak?hutjies. En elke tweede een is pepermentgroen geverf. Vir kilometers en kilometers is daar niks nie. Golwende groen heuwels met spikkelhuisies yl gesaai teen die hoogtes. Diep spoelslote soos littekens uitgekerf teen die hange. Motorwrakke elke paar honderd meter: langs die paaie, in die slote, in die rivierlope. Die Australiër wil weet hoe ver nog - hy't 'n nood. "Nog ver, maar jy kan die bostoilet gebruik," sê ons drywer. "This is Africa , mate!" Eenparig word besluit om liefs nog 'n ruk te knyp. Tussen Mthatha en Kokstad ry ons verby nóg meer motorwrakke. Deur Mount Frere met verwaarloosde geboue, sypaadjies toegepak met sinkgehuggies wat as winkels dien. Teen donker ry ons Durban binne. Ek oornag by Gibela. Rustig, upmarket, 'n oase vir die moeë rugsakreisiger. "Groen is die land van Natal . . . " Ligdag koers ons verder deur die golwende heuwellandskap, bultop, bultaf. Dis drukkend warm. Ek voel naar. 'n Paar dreigende gromslae uit die dieptes van die donderwolke doen nie veel om my op te beur nie. Teen die hange sit blokkieshuisies uitgestippel. Elke agterplaas het sy eie piesang-, papaja- of mangoboom. Ons ry verby Shakaskraal: "Allsorts," staan op een winkel. Op die sypaadjie staan hokke met hoenders - varser kan jy kwalik kry. Ek aanskou die magtige Tugela. Weerskante staan die gras heuphoogte tussen die doringbossies wat teen die steiltes uitgestrooi is. Die Voortrekkers wou óf baie graag van die Engelse wegkom, óf hulle het gewoon 'n paar varkies gekort, besluit ek. Pepermentgroen rondawels. Duidelik het iemand hier familie in die Transkei . Party met sinkonderrokkies wat onder die gespitste rietdak uithang. Hier en daar een met 'n koloniale invloed: Die voorste rondawelmuur afgeplat om 'n halfsirkelstoepie met 'n deur en twee vensteropeninge te vorm. Kilometers en kilometers suikerrietplantasies - seker Natal se alternatief vir die wynroete? Ons stop voor Bashee's Showroom. Trap modderspore oor die spierwit teëls van die toonruimte na die enkele toilet. 'n Gehawende rooi To?yota is ál voertuig op die vloer. 'n Kantoordeur staan op 'n skrefie oop; ek sien rommel en 'n uitgedopte rekenaar. Qunu, Mandela se tuiste: Ek hang vol afwagting by die venster uit X 'n enorme rooibaksteen-villa agter hoë veiligheidsmure. Bokke wei in die oprit. Oorkant die pad is die nederige hutjies van die bure. Uiteindelik kry ons Mthatha (voorheen Umtata ). Ons ry verby 'n span donkies, groot boks met 'n blinknuwe stoof op die karretjie - tuisaflewering op sy beste! Op sypaadjies staan die ware uitgestal, tot skaaptjops en hoenderboudjies. Dis nou as jy dapper genoeg is om ou Wollie en Veervoet wat ewe gedwee in hul hok staan en wag, oor die skouer te gooi en tuis tot die nodige te gaan verwerk. Dis nou seker 'n slaghuis se ekwivalent van DDS (DIY). In Eshowe se rigting klim ons geleidelik hoër. Donkerswart modderhutjies smelt saam met die heuwelhange; klein groentetuine klou teen die skuinstes. Die suikerrietbeplante heuwels met hul eweredige kontoere lyk kompleet soos 'n Zoeloe-meisie se kapsel met netjiese rye vlegseltjies. Ons ry verby die modernste kompleks wat ek die heeldag gesien het. 'n Stuk of tien rooibaksteen-eenhede geskei deur goed versorgde grasperke, hoë sekerheidsheinings rondom. Eshowe se tronk. Anderkant Eshowe begin die landskap verander. Die wêreld word platter. Daar's selfs 'n beduidenis van berge. Sitrusboorde wissel die suikerriet af; lanings denne en populiere - 'n mens kan jou amper verbeel jy's in die Boland. Langpad, teerpad, grondpad - en uiteindelik by ons bestemming. Maar bo alles bly dit 'n kuns om die REIS te geniet . . . . Meer inligting oor rugsakreis is by www.backpackingsouthafrica.co.za beskikbaar. · Volgende word kennis gemaak met die "grootwild" by Isinkwe. Isabel Swart is 'n vryskutjoernalis en ma van twee seuns.
 
 
 
HOME ABOUT US TICKET OPTIONS TIMETABLE ACCOMMODATION SA SIGHTS DISCOUNTS FAQ BUY TICKET ENQUIRIES

Visa - MastercardVCS Secured Payments